AMTrends & 10X: Is my plaas my aftrede?
Dr Johnny van der Merwe
1 October 2026
Is jou boerdery jou pensioen? Vir baie boere gaan die wins van 'n goeie jaar reguit terug in die plaas: meer grond, nuwe implemente, nog 'n trekker. Die plaas groei, maar daar word dikwels min buite die plaas gespaar, hetsy vir aftrede of om dit makliker te maak om die plaas aan die volgende geslag oor te gee.
In hierdie gesprek gesels dr. Johnny van der Merwe van AMTrends met André Tuck, senior beleggingskonsultant by 10X Investments, oor hoe boere buite die plaas kan diversifiseer, waarna jy moet kyk wanneer dit by beleggingskoste kom, en hoe jy kan aftree sonder om van die plaas se kontantvloei afhanklik te wees.
Hoogtepunte uit die gesprek
- 01:21: Is 'n boerdery 'n pensioen? Hoekom so baie van 'n boer se geld terug in die plaas gaan.
- 03:26: Wat doen jy met 'n goeie jaar se miljoen rand? Belastingvrye spaar, uittree-annuïteite en diversifikasie.
- 07:22: Skuld afbetaal of spaar, en hoekom likiditeit saak maak wanneer 'n boedel afgehandel word.
- 14:49: Beleggingskoste: wat effektiewe jaarlikse koste (EJK) is en hoekom jy daarna moet vra.
- 22:54: “Ek is 41. Wat moet ek doen?” Twee vrae oor jou aftreespaargeld.
- 26:48: Die plaas oorgee sonder om vir jou inkomste daarvan afhanklik te bly.
- 29:54: Die bakkie: afbetaal of inruil?
- 31:46: André se raad vir boere in onsekere tye.
- 38:27: Hoeveel het jy nodig om af te tree?
In die gesprek verwys André na 10X se gratis rekenaars en kostevergelykings. Hier is waar jy dit kan vind:
- Uittree-annuïteitrekenaar: bereken hoe jou aftreespaargeld kan groei.
- Belastingvrye spaarrekenaar: sien hoeveel jou belastingvrye spaarrekening werd kan wees hoe langer jy dit belê hou.
- EJK-rekenaar: vergelyk die effektiewe jaarlikse koste van jou aftreebeleggings.
- Gratis kostevergelyking: vergelyk jou huidige aftreebeleggings met 10X.
Transkripsie
Hierdie transkripsie is liggies geredigeer vir leesbaarheid.
Voorsmakie (0:02)
[0:02] Johnny: Ons gesels vandag met André Tuck oor boerdery, beleggings en nalatenskap.
[0:02] André: Ongelukkig, in Suid-Afrika kan net 6% van die normale bevolking onafhanklik aftree. Mense dink een miljoen rand is byvoorbeeld genoeg om hier af te tree.
[0:22] Johnny: Is 'n boerdery 'n pensioen? En hoekom ek dit spesifiek vra: ons sit nou self in die situasie.
[0:28] André: Ek dink dis 'n baie goeie vraag. Ek bedoel, ek het self familie in die Vrystaat. … 'n Baie gevaarlike ding is die nuutste hot tip by die braaivleis. Dis nou kripto, of dis goud, of dis dit. Maar om welvaart te skep oor tyd, soos om 'n goeie plaas op te bou, neem dekades.
Onderhoud (0:47)
[0:47] Johnny: Ek's dr. Johnny van der Merwe van AMT. Ons gesels vandag bietjie oor pensioen en hoe jy dit op die plaas moet hanteer. Ek dink ons wil bietjie praktiese oplossings probeer kry vir ons boere daar buite om beter besluite te neem. En ek dink van AMT se kant af is dit altyd ons mikpunt met wat ons doen. Ons gesels vandag met André Tuck. André, baie welkom.
André: Baie dankie, Johnny.
[1:04] Johnny: André, stel gou jouself voor, dalk sommer vir die kykers, asseblief.
[1:10] André: Baie dankie. Soos jy genoem het: André Tuck. Ek is 'n senior beleggingskonsultant by 10X Investments. Ek is al oor die 10 jaar by 10X en oor die 30 jaar in die finansiële beleggingsindustrie.
Is 'n boerdery 'n pensioen? (1:21)
[1:21] Johnny: André, ek dink dis vir al ons boere daar buite nogal 'n vreemde woord: investering. Ek dink hulle doen dit elke dag — elke dag wat hulle kan, doen hulle dit — maar hulle investeer dit terug in hulle boerderye. Is 'n boerdery 'n pensioen? En hoekom ek dit spesifiek vra: ons sit nou self in 'n situasie waar jy kontantvloeiprobleme het, so jy sukkel om die plaas oor te gee aan die volgende generasie. Hoe kan jy bietjie diversifiseer, en hoe moet jy dit doen? Ek wil net so bietjie praktiese oplossings vir ons boere daar buite kry.
[1:51] André: Ek dink dis 'n baie goeie vraag. Ek bedoel, ek het self familie in die Vrystaat, in die Hoopstad-area, wat in die boerderybedryf is, en ek het ook daai oorgang gesien van my skoonpa na my swaer toe in die boerdery. En ek verstaan — jy weet, as jy kyk na die mediese veld, na dokters ensovoorts, mediese professionele persone: hulle verstaan byvoorbeeld baie goed wat 'n retirement annuity, of 'n uittree-annuïteit ('n RA), vir hulle kan bied — die belastingaftrekking daarvan, en hoe dit vir hulle 'n groot enkelbedrag aan aftreekapitaal kan beteken as hulle eendag die praktyk gaan verkoop en gaan aftree en dan rustig gaan wees. So ons verstaan — ek bedoel, die boere maak absoluut 'n groot bydrae — maar al die geld, of die meeste van die geld, gaan terug in die koop van meer grond, implemente, trekkers ensovoorts — investering terug in die plaas — terwyl daar, jy weet, soveel meer aan beleggingsprodukte bestee kan word. En dit is eintlik 'n rol wat hulle ouditeursfirma speel, byvoorbeeld PwC — 'n firma waarna boere baie graag luister oor hulle voorlopige belasting en normale belasting en boedelbelasting ensovoorts — wat vir hulle hulp kan verleen, en ook normale beleggingsprodukte daar buite wat kan help. Ek bedoel, 'n uittree-annuïteit is byvoorbeeld 'n baie goeie spaarmedium vir 'n boer. Dis beskerm teen krediteure, en daar's belastingaftrekkings. So daar's goeie produkte en oplossings. Maar dit gaan oor die gesprek. 'n Mens moet die gesprek hê en sê: dis wat ek doen, en dít is wat beskikbaar is in die finansiële markte.
Wat doen jy met 'n goeie jaar se miljoen rand? (3:26)
[3:26] Johnny: André, soos jy praat, hoor ek sommer wat die boere dink. Hulle sê: "Ek het nou 'n miljoen rand. Dis 'n goeie jaar. Hier's 'n miljoen rand — ek gaan eerder my drade regmaak. Ek gaan skuld afbetaal. 'n Uittree-annuïteit of 'n belegging — dit is geld wat nie vir my werk nie," of wat hulle voel natuurlik nie vir hulle gaan werk nie. En persoonlik voel ek ook: ek wil geld hê waarmee ek kan woeker. Ek wil beeste koop, ek wil plant, ek wil wat ook al doen. Watse raad het jy as iemand so na jou toe kom met daai vraag?
[4:02] André: Ons kry die vraag gereeld. Iemand verkoop 'n eiendom, 'n huis, vir 'n miljoen rand, of 'n besigheid. En ons glo dat diversifikasie — die verspreiding van die risiko, net soos 'n boer dit ook doen — die regte manier is, die oplossing om te volg. So daar's 'n paar spaarmediums of beleggingsprodukte of oplossings beskikbaar. Met jou voorbeeld van 'n miljoen rand: eerstens R46 000 in 'n belastingvrye spaarproduk, ook genoem die tax-free savings account, die TFSA. Jy kan R46 000 vir jou in 'n belastingjaar sit, en R46 000 vir jou gade. Dit is seker die enigste beleggingsproduk in die industrie wat totaal en al belastingvry is.
[4:44] Johnny: So jy kan elke jaar R46 000 vir jou en jou vrou sit?
[4:44] André: 100%. Van die eerste Maart af tot einde Februarie: R46 000. Nasionale Tesourie het seker so 10 jaar terug besluit: ons moet 'n wortel voor Suid-Afrikaners se neuse hou om vir hulle te sê, luister, ons het 'n baie swak spaarkultuur in Suid-Afrika. Ons moet mense aanmoedig om self vir hulle oudag en aftrede te voorsien. En wat kan ons doen, behalwe die uittree-annuïteit en die voordele daarvan? 'n Tax-free savings account. So dit was eers R30 000, toe R33 000, en nou in die laaste begrotingsrede is dit verhoog tot R46 000. Dis 'n enkelbedrag. Party mense doen maandelikse bydraes, maar 'n boer het grootliks inkomste wat in een slag inkom: R46 000 vir my, R46 000 [vir my vrou], dalk dadelik — daar's hy, hy kan dit wegsit. En in 'n familiegroep van vier mense is dit R46 000 maal vier. Ons sien dit word ook baie gewild onder veral oupas en oumas wat vir kleinkinders wil seker maak dat hulle eendag verder kan studeer, of 'n kapitale bedrag het as hulle eendag 18 of 21 is. Dis totaal belastingvry: geen belasting op rente-inkomste, geen boedel— [onduidelik] kapitaalwinsbelasting, geen dividendbelasting nie. So daar's baie ruimte, en jy kan tot 100% buitelands belê, en jy kan in SA-aandele en staatseffekte belê, of 'n kombinasie daarvan. So dis 'n baie goeie idee.
[6:05] Die tweede een, vir die boer, is weereens in die nasionale begrotingsrede: enige persoon wat 'n bydrae maak tot 'n pensioenfonds of 'n bewaringsfonds, of — vir die boeregemeenskap — tot 'n uittree-annuïteit: dis nou 27,5% van jou totale inkomste, tot 'n maksimum van R430 000 per jaar, wat belastingaftrekbaar is. Dit was R350 000; nou is dit R430 000 per belastingjaar. So met die hulp van jou belastingkonsultant en jou finansiële adviseur kan die boer — maak nie saak waar in die land hy is nie — met daai konsultant gaan sit en bespreek: hoeveel het ek, wat is my verdienste, en hoeveel bydraes kan ek nog steeds maak om dit belastingaftrekbaar te maak? En daai geld wat binne-in daai uittree-annuïteit gaan, is dan vrygestel van belasting. Baie belangrik. Nou die volgende punt wat ek noem: dit vorm nie deel van jou boedel nie.
Johnny: OK.
[6:59] André: By dood trek dit nie eksekuteursfooie nie. So dit kan groei in 'n portefeulje van aandele, staatseffekte en kontant om vir jou eendag 'n kapitaalbedrag te bewerkstellig, wat dan in 'n lewende annuïteit kan gaan om vir jou maandelikse inkomste te gee. So dis altyd 'n kombinasie van hierdie drie of vier goed. En dan miskien 'n aandeleportefeulje of 'n unit trust-plan, en dan kan die boer miskien die res aanwend vir die behoeftes op sy plaas.
Skuld afbetaal of spaar? (7:22)
[7:22] Johnny: Maar as dit kom by, kom ons sê, skuld, of hoë rentekoerse, daai tipe goed… Maar kom ons sê daar moet nou met die miljoen rand redelike herstelwerk op die plaas gedoen word. Ek dink nou maar net van 'n praktiese oogpunt af: ons moet drade regmaak, of ek moet my produksielening betaal.
André: Produksielening moet natuurlik betaal word.
[7:41] Johnny: Hierdie — bedoel jy dan nou geld wat na…
André: Dit, amper 100%.
[7:48] Johnny: Daar's altyd voorkeure en groter behoeftes, en dis eintlik waar ek wil uitkom. Want daar gaan altyd 'n groter behoefte wees op 'n plaas — om beeste te koop of te plant of grond te koop of wat ook al — as om geld in 'n uittree-annuïteit te sit. Maar 'n mens moet dit tog bestuur.
[8:06] André: 'n Mens moet dit bestuur. En ek dink, wat ek nou-nou genoem het van die mediese professionele beroepslui: hulle het agtergekom dat die aftrekking van 'n uittree-annuïteit baie voordelig is vir hulle as hoë-inkomsteverdieners, soos 'n boer. Maar 'n professionele persoon kry meestal deurlopend —
Johnny: Boere. Ja, van die boere! [lag]
[8:24] André: — kry meestal deurlopend inkomste. 'n Boer, die tradisionele boer in die algemeen, is 'n saaiboer met 'n mielie-oes of 'n koring-oes wat een groot tjek gaan kry. Of beeste, een of twee keer 'n jaar —
Johnny: Exactly.
[8:37] André: — en dan is daar deurlopend die melkery en ander verkope wat plaasvind. So dis 'n kombinasie: maak seker dat daai pertinente skulde afbetaal word, dat die lening by die bank afgelos word, en begin dan doelgerig en konsekwent met 'n spaarplan — met die uittree-annuïteit, met die belastingvrye spaarplan en 'n effektetrustspaarplan — om seker te maak dat as jy die dag wil aftree, of [onduidelik], jy ook produkte of geld het wat buite jou boedel gaan val vir boedelbelasting.
[9:20] Ek het dit nou al 'n paar keer gesien. Jy weet, dis die een ding: 'n mens weet nooit wanneer die afsterwe gaan plaasvind nie. En dan kan die afhandeling van die boedel tot 'n jaar langer neem vir 'n boer. Daar's heelwat verskillende laste. Die eksekuteur doen sy bes, maar dit is 'n lang proses. Terwyl ek in ons ondervinding gesien het: as jy 'n R5 miljoen of 'n R10 miljoen lewende annuïteit het — meneer Boer op Thabazimbi, en hy het sy vrou benoem as die begunstigde — dan word dit by ons aangemeld, dit val buite die boedel, en binne twee weke word dit omgeskakel in mevrou se naam en kan sy aangaan met haar inkomste. Die likiditeit is dadelik beskikbaar, en sy benoem weer die kinders as die genomineerde begunstigdes. So in terme van likiditeit — die skepping van kapitaal wanneer dit die meeste benodig word, in die dringendste periode — kan 'n lewende annuïteit dit vir jou bewerkstellig.
[10:14] Johnny: Ek wil graag ook by die kostes rondom dit kom, want ek weet — ek het bietjie deur julle website gegaan, en ek weet julle roem nogal op julle kostes, wat relatief laag is, en waarvoor almal nou moet kyk. Maar voordat ons by dit kom, wil ek net gou by jou hoor: baie boere werk op skuld. Is dit die beste strategie om al jou skuld af te betaal en dan so iets te doen, of sal 'n mens 'n balans kry? En ek dink daar's tog nie een antwoord vir almal nie. Ek dink iemand soos julle sal nou gaan sit met 'n boer en sê: hoor hier, kom ons hou hierdie skuldvlakke, maar ons begin hierdie ding stelselmatig opbou. Ek wil net prakties eintlik vir myself verstaan hoe dit werk.
[10:54] André: 100%. Die boere is net soos ons. Ons is ook uitgelewer aan die finansiële markte. Ek bedoel, met wat gebeur het in die konflik in die Midde-Ooste hierdie jaar, 24 Februarie — dit het totaal en al die appelkar omgegooi hierdie jaar in terme van hierdie tipe insidente. En Suid-Afrika — ons het die laaste ses jaar baie goed beleef, en dit was alles eksterne faktore wat wêreldwyd en in SA 'n invloed gehad het: hoë inflasie ensovoorts. So dit lei tot — jy weet, die finansiële markte beweeg op sekerheid en onsekerheid, en 'n oorlog in die Midde-Ooste lei potensieel daartoe dat die Amerikaanse Federale Reserweraad moontlik vandag hulle rentekoerse gaan verhoog. Nou, voordat Donald Trump aan bewind gekom het — ons gaan volgende week, die Bank van Engeland môre — so voordat Donald Trump byvoorbeeld aan bewind gekom het, was die algemene verwagting van die Amerikaanse Federale Reserweraad vier tot ses dalings in 2024/25. En dit het nie gebeur nie, want hy het met tariffs en trade wars begin, handelsoorloë en sulke tipe goed. So dis nou half 'n lang storie waarmee ek kom, maar dit hang af van wat die rentekoerse is, en waar die boer is: is hy deur die droogte, langdurige droogte, El Niño ensovoorts? Is die boer in 'n goeie plek om die skuld graag af te betaal sodat hy verdere lenings van die bank kan kry? Word hy bietjie gedruk deur die bank wat sê: jy moet darem 'n sekere deel van jou lening nou vir ons begin afbetaal? So dit gaan alles afhang van wat die rentekoers op daai stadium gaan wees, hoeveel knyp die boer van die bank of die finansiële instelling voel, en dan ook om te diversifiseer in beleggingsprodukte. So dis 'n kombinasie. Daar's nie, soos jy tereg gesê het, net een antwoord daarvoor nie.
[12:44] Johnny: Ja. Want ek dink 'n mens soek baie keer daai een antwoord om te sê: wat moet ek doen? Ek het nou hierdie geld… En ek weet daar's baie vrae: moet ek nou solar opsit? Moet ek drade regmaak? Moet ek my oorhoofse — hoe kan ek sê — my maandelikse kostes probeer afkry? So daar's eintlik 'n paar besluite wat so 'n besluit kan beïnvloed as jy op 'n plaas sit.
[13:07] André: Definitief. Die belegging in landbougrond in Suid-Afrika is 'n baie goeie beleggingsbesluit, net soos die belegging, vir iemand wat in die stad bly, in residensiële eiendom, in 'n tweede eiendom. So eiendom is 'n baie belangrike bate vir iemand, veral in die landbousektor. Daai investering in die plaas — en almal in die landbougemeenskap weet dit — bring meer kontant en geld vorentoe. Maar om verder ook te diversifiseer in ander beleggings: die belastingimplikasie, die likiditeitsimpak van 'n belastingvrye spaarproduk saam met 'n uittree-annuïteit, en die voordeel wat dit later vir jou kan hê. Maar dan moet jy vroeër al begin spaar.
[13:52] Johnny: Ek dink dis baie belangrik, en ek dink dis waar die kopskuif eintlik moet kom: om te sê, ek kan met hierdie geld dalk 'n deposito neersit op die buurman se plaas of op die stukkie grond langs my, en ek kan dit begin afbetaal. Maar 'n mens moet diversifiseer. En weereens: jy sluit jou kapitaal vas, en jy's besig om die oordrag van jou plaas eintlik te bemoeilik, as ek die regte woord so kan gebruik. Om te sê: hoor hier, ek as eienaar moet ook eendag lewe as ek op my oudag sit, en my kinders moet aanhou boer — jy moet daai besluite ook in ag neem.
[14:24] André: Absoluut. Ek dink dit is baie belangrik: hoe meer opsies jy vir jouself gee… En dis hoekom boere in hulle eie besighede diversifiseer. Ons het dit gesien in wild, en baie ander — melkery ensovoorts. Maar om uit 'n beleggingsoogpunt ook bietjie te luister na die finansiële beplanner — baie belangrik — om te luister na jou belastingkonsultant, en ook om huiswerk te doen, soos wat mense deesdae soveel meer doen. Baie goeie idee.
Kostes: waarvoor moet jy kyk? (14:49)
[14:49] Johnny: André, gepraat van die kostes — ek het nou-nou so vinnig daarvan genoem. As jy vir die boere daar buite, of vir die kykers daar buite, net so bietjie 'n paar tips — as ek die Engelse woord kan gebruik — kan gee: waarvoor moet hulle kyk? Want dit kan nogal 'n groot impak oor 'n 20-, 30-, 40-jaar-periode hê.
[15:01] André: Nee, 100%. Ek dink in Suid-Afrika is 10X baie bekend daarvoor dat ons die soeklig laat skyn op hoë koste in die finansiëledienstebedryf. Die industrie is nie altyd so deursigtig soos wat dit kan wees en moet wees nie.
[15:18] Johnny: Baie boere hou nie daarvan om te lees nie.
André: Ja.
[15:18] Johnny: So 'n mens kan baie maklik baie goedjies tussenin wegsteek.
[15:18] André: Ja. Definitief, definitief. Die tradisionele Suid-Afrikaanse lewensversekeringsmaatskappye is baie goed met hulle produkte soos lewensversekering, mediese fondse, gevreesde-siektedekking ensovoorts. Maar omdat jy in daai verband 'n kliënt van hulle is, sal hulle ook 'n uittree-annuïteit of 'n ander beleggingsproduk aan jou verkoop. En dit is die ou generasie produkte met hoër kostes. Dan het jy die nuwe generasie produkte, wat openbaarmaking 'n baie belangrike deel van hulle waardeproposisie maak: beleggingsplatforms — en daar's tale van hulle beskikbaar in die Suid-Afrikaanse industrie. Maar ongelukkig is die lae van kostes baie moeilik vir kliënte om te verstaan. So daar's iets — as daar een ding is wat 'n kliënt vandag kan leer — daar's 'n ding wat EJK genoem word: effektiewe jaarlikse koste. So as jy 'n beleggingsplan of 'n aandeleportefeulje of 'n uittree-annuïteit uitneem by jou finansiële beplanner, vra vir die finansiële beplanner: wat is my EJK, of EAC? In Engels EAC, effective annual cost, of EJK in Afrikaans, effektiewe jaarlikse koste. Want die adviseur sê: "Man, my koste is 0,5%," of "die kostes is 1%," maar dis net een van die lae van kostes, en dis nie altyd so deursigtig nie.
[16:46] So die finansiële industrie het gesê: kom ons reguleer dit. En dit is absoluut noodsaaklik: dit moet by wet geopenbaar word, en dit word in 'n tabelformaat aangedui — oor 3, 5 en 10 jaar. Wat is die — is daar 'n aanvangsfooi? Wat is die administrasie- of platformkoste? Hulle moet nou alles [onduidelik]. Wat's die bemarkingskoste, wat is die fondsbestuurskoste, en wat's die adviseurskoste? Dit word alles bymekaargetel: 2,5%, 2,7%. Ek het al 4% gesien, 4,7%. Nou, as jy as kliënt 'n opbrengs van 8 of 10% 'n jaar kry, en jy moet 4 of 4,7 of 2% wegbetaal — dis nie in die beste belang van die kliënt nie. So ek sê altyd, tong in die kies: moenie iemand anders se aftrede befonds nie. Befonds jou eie aftrede.
[17:37] Maar hê daai gesprek, want oor baie van hierdie kostes kan 'n mens gesels, en hulle kan verlaag word. Die kliënte kom terug na ons en sê die finansiële adviseur sê: "Nee, ons kan nie hieroor gesels nie. Dit is die koste, take it or leave it." Dis nie hoe dit in die industrie werk nie. So die drie kostes is: die finansiële adviseurskoste — tipiese adviesfooie is tussen 0 en 1% per jaar. Die tweede koste is die administrasiekoste. Dis gewoonlik die laagste koste, afhangend van jou beleggingsbedrag — vir 'n bedrag van R5 miljoen in die omgewing van 0,4%. Dan die fondsbestuurskoste. Ek bedoel, daar's 'n leër — daar's honderde fondsbestuurders en fondse op verskillende platforms beskikbaar. Dit kan wissel van enigiets tussen 0,2 en 3%. Nou, die gemiddelde EJK op 'n R5 miljoen belegging is so 2,5 tot 2,7%, wat heeltemal te hoog is. So 10X het 20 jaar terug begin en gesê: ons gaan ons koste op 1% of laer hou. En ons roem daarop dat ons dit doen. Nou, die tradisionele Vanguard en BlackRock, wat baie groot — triljoene rande of dollars — onder bestuur het: hulle is al in 'n kostemodel waar dit 0,2, 0,3 totale EJK is. Ons is in Suid-Afrika, waar ons sukkel om finansiële produkverskaffers onder 1% te hou. Hier en daar is daar een of twee wat hard daaraan werk, maar meestal is dit nog 1,5%, 2%, 2,5% per jaar. En die onnodige lae van koste wat nie deursigtig aan die kliënt deurgegee word nie, kan 'n baie negatiewe impak hê op 'n kliënt se belegging oor tyd, want dis saamgesteld: hierdie jaar betaal jy dit, volgende jaar betaal jy dit weer, die jaar daarna betaal jy dit weer.
[19:17] Johnny: As jy dalk 'n praktiese voorbeeld vir ons kan gee — kom ons vat 'n miljoen rand, om dit nou 'n ronde getal te maak, en jy sit oor 'n 20-, 30-, 40-jaar-periode. En ek weet julle het baie lekker rekenaars, calculators, op julle website, of op julle webtuiste, waar mense hierdie goed lekker kan gaan uitwerk. Om te sê: in plaas van 'n 2,5 of 'n 3% koste, waar julle onder 1% is — wat sal die verskil oor 'n 20- of 'n 30-jaar-periode wees, net van 'n miljoen rand? Dit gaan natuurlik vir baie groter bedrae wees, maar kom ons vat dit maar net as 'n voorbeeld.
[19:46] André: Ja. Ja. Ek dink wat jy noem — ek weet ons het omtrent 10 verskillende rekenaars, calculators, op ons webtuiste wat gratis vir kliënte beskikbaar is om te gebruik. So daar's 'n verskeidenheid: is dit 'n beleggingsplan vir 'n 5- of 10-jaar-termyn, is dit 'n uittree-annuïteit? Die boer is 40, wil moontlik op 65 aftree. En dan wys ons ook vinnig op 'n slider: as dit jou bedrag is, wat is jou koste? En ons wys ook, as jy byvoorbeeld 1% betaal, of 0,8%, versus 2,5% of 2,2%, wat die verskil is. En die verskil is nogal groot.
[20:54] Johnny: Dit kan die verskil maak of 'n boer kan aftree en vir sy kinders die plaas kan oorgee of nie.
[20:59] André: Absoluut. Jy weet, een van die regtig hartseer stories — en ons praat met kliënte van oral in die spektrum: van 'n persoon wat nou net begin werk en graag in 'n belastingvrye produk en 'n uittree-annuïteit wil belê, tot 'n CEO van 'n genoteerde maatskappy wat nou aftree, wat vrae vra. En baie van die vrae is dieselfde: Hoe werk dit? Wat's die koste? Wat moet ek doen? Ensovoorts. So al die faktore is ongelooflik belangrik. Maar een van die hartseer verhale wat ons baie keer hoor — en dis ongelukkig waar in die industrie van die ou generasie produkte — is: "Ek het oor 20 jaar soveel per maand betaal, en die bedrag wat ek inbetaal het en die totale kapitaalwaarde wat ek op my plan sien, is dieselfde. Ek het weinig groei gekry."
Johnny: Sjoe. Iemand het daai groei gekry.
[21:53] André: Ja. Ja. Die koste is aan iemand anders oorbetaal. So dit is ongelukkig — jy kan jouself nie weer in daai posisie terugsit om weer 20 of 30 of 40 jaar oud te wees nie. So die geleentheidskoste om aanhoudend duur koste, of lae van koste, te betaal, gaan jy nie weer terugkry nie. So ek sê altyd vir 'n jong persoon in hul 20's, 30's, 40's: maak tyd jou beste vriend. Doen jou huiswerk. Kyk na 'n beleggingsportefeulje met aandele — SA en oorsee — as jou hoofbeleggingskomponent, wat gediversifiseerd is, met 'n lae koste-impak. En as jy vir Warren Buffett, seker die bekendste belegger in die wêreld, vra, sê hy vir jou: belê in indeksgekoppelde produkte. Belê in indeksgekoppelde produkte en laat die mark vir jou groei.
Johnny: Ja. En tyd is jou vriend.
André: Absoluut.
[22:45] Johnny: Compounding — nie 'n lekker Afrikaanse woord nie, maar compounding is so 'n lekker woord. En ek dink dis waar jy die groei in jou beleggings natuurlik sien.
"Ek is 41. Wat moet ek doen?" (22:54)
[22:54] Johnny: André, ek wil gou vir jou 'n vinnige vraag vra. Ek is nou — ek moet nou mooi dink — ek's 41 jaar oud. As jy nou vir my raad kan gee op hierdie oomblik: ek het 'n uittree-annuïteit, ons het so hier op 25 jaar daar rond begin. Maar wat sal jy doen as jy nou in my skoene sit? Of dit nou met my AMT-besigheid is of 'n boerdery — watse raad sal jy vir my op hierdie oomblik gee?
[23:17] André: OK, ek sal begin deur jou twee goed te vra. Die eerste: wat is jou bydrae tans tot hierdie uittree-annuïteit, op 41, as persentasie van jou totale inkomste? Jy moet ten minste 15% van jou totale inkomste in 'n aftreeproduk wegsit. So dis die eerste som wat ons vir kliënte vra. Baie navorsing wat gedoen is, het gewys — ongelukkig kan in Suid-Afrika net 6% van die normale bevolking, net 6% van ons, onafhanklik aftree. Net 6%. Baie studies het dit bewys. Die 10X-realiteitsverslag wat ons elke jaar doen, bewys dit elke jaar. So 94% van mense moet óf aanhou werk, óf hulle moet 'n tweede werk vind as hulle afgelê word, óf hulle moet by die kinders intrek. Dit gebeur. Dis die realiteit vandag.
[24:11] So die eerste ding wat jy moet doen: wat is 15% van jou salaris? En dan kan jy miskien 20% of 25% bydra — op alle bydraes wat jy meer maak, kry jy die voordeel van die belastingaftrekking. Mense wat by 'n maatskappy werk, in 'n korporatiewe omgewing — hulle vra net hulle menslikehulpbronbestuurder, en hulle kan op 'n salarisstaat net aandui: as jy 15% bydra, of 10%, of 25%, wat is die bedrag wat jy na die aftrekkings huis toe gaan neem? So dis die eerste ding: maak jy genoeg bydraes?
Johnny: Ja.
[24:44] André: So dis 15% — dis ononderhandelbaar. 15% van jou totale inkomste oor 'n minimum van 30 jaar.
[24:50] Johnny: Is 41 — ek's 41 jaar oud — is dit te laat vir my?
[24:50] André: Dis nog nie te laat nie. Die tweede ding wat ons vra, is: waarin is jy tans belê? Miskien het jy uittree-annuïteite by maatskappy A, B of C. Ten minste een keer 'n jaar moet jy deur daai som gaan, soos 'n mediese ondersoek of 'n tandartsondersoek. Gaan deur daai som: dít was my beleggingsbedrag op die eerste Januarie, dís waar ek nou is — kom ons sê in September. Wat is die portefeulje? Hoe lyk die portefeulje waarin ek belê is? Is dit geskik, relevant tot my aftreeouderdom op 63, 65? Dit beteken: die bate-allokasie — baie belangrik. Tweedens: wat's die koste wat ek betaal? Ons doen gratis kostevergelykings vir kliënte. Hulle stuur hulle bewaringsfonds-, lewende-annuïteit- en uittree-annuïteitstate van al die maatskappye in Suid-Afrika vir ons, en ons doen 'n gratis kostevergelyking vir die kliënt.
Johnny: Waarheen stuur hulle dit?
[25:39] André: Hulle stuur dit na ons toe, na 10X Investments toe. Kliënte kan ook op ons webtuiste gaan en sê: "I request a cost comparison" — 'n kostevergelyking. En ons doen dit gratis. So ons het die hulpmiddels om — ek wil nou nie die maatskappy se naam noem nie, maar dis die groen maatskappy: dis 'n uittree-annuïteit, dis hoe oud ek is, 41, my beleggingswaarde is R2 miljoen, ek maak R5 000 per maand bydrae. Dan kan ons vir jou wys: jy's nou 41 — hoe sal dit lyk op 63 of 65 as jy aanhou met hierdie produk, met hierdie bate-allokasie, met hierdie kostes? Of: hier is die alternatiewe.
Johnny: Ja.
[26:11] André: So dit is die eerste twee goed wat ek vir jou sou sê. Maak jy genoeg bydraes? En die tweede: dit is tyd vir die jaarlikse hersiening van jou totale beleggingsportefeulje.
[26:24] Johnny: Ek dink dis so belangrik vir mense om net bietjie te gaan kyk. En jy laat my nou self wonder, en laat my self dink dat ek dit dalk ook moet doen as ons hier uitstap. Laat 'n mens net mooi gaan seker maak. Jy wil vir jou kinders ook eendag iets opsy sit, en ek dink 'n mens wil nie van jou kinders afhanklik wees nie. Jy wil vir hulle 'n besigheid of 'n plaas gee en sê: hoor hier, daar gaan julle. En jy gaan aftree, en jy het 'n lekker gemaklike lewe wat jy dan ten minste verder kan beplan.
Die plaas oorgee sonder om daarvan afhanklik te bly (26:48)
[26:48] André: Ja. In my persoonlike geval — ek het nou-nou vir jou genoem, familie in die Vrystaat — dit gaan baie goed met die boerdery. Jy weet, dit gaan deur die droogtes en alles, en daar was goeie periodes en daar was moeiliker periodes, en daar was baie goeie periodes die laaste paar jaar vir hulle daar.
Johnny: Ja. Ja.
[27:05] André: En jy weet, jy wil ook nie… Nou is die boer ouer, en hy wil nou aftree. Nou neem die seun oor, of die dogter, of die seuns, en dit moet verdeel word. So nou moet jy wag om eers daai gesprek te hê. Jy ken die boerdery, jy's die patriarg hiervan, en nou moet jy 'n inkomste neem. Jy wil dit nou rustiger vat. Maar as jy vir jouself ook 'n kapitale bedrag opgebou het in 'n uittree-annuïteit oor tyd, waaruit jy self jou inkomste kan neem, dan maak jy jouself minder afhanklik van die boerdery en van jou familieverband. So daai kan dan jou addisionele inkomste wees —
Johnny: Ja.
[27:41] André: — terwyl jy jou hoofinkomste hier kan kry uit 'n lewende annuïteit wat, jy weet, buite jou boedel gaan val. Dis een van die groot goed. Baie boere neem lewenspolisse uit juis vir daai doel: as jy sou sterf, is dit gesedeer aan… of dit betaal uit sonder enige begunstigdes aan die boedel, om daai likiditeit in die boedel te bewerkstellig.
[28:01] Johnny: Ja. So dis nogal — ek weet my ouers spesifiek het ook nogal baie lewensversekering uitgeneem en alles. Maar weereens, dit is nou 'n kontantvloeiprobleem, want jy kan nie noodwendig nou hulle kostes uit die boerdery uittrek nie, en die boerdery gaan deur moeilike tye — natuurlik — waar jy 'n jaar glad nie inkomste verdien nie. Ander jare verdien jy weer baie meer. So jy moet daai likiditeit ook in jou boerdery hou.
[28:30] André: Absoluut. En dis waar — hou jou lewensversekering steeds in plek. Maar jou uittree-annuïteit: as dit moeilik gaan in periodes van droogte en moeilike landbou-omstandighede, kan jy jou bydraes tot jou uittree-annuïteit stop vir ses maande of 'n jaar of twee, en later weer aangaan. Maar jou lewensversekeringspremie wil jy nooit stop nie. So jy het baie goed hier om mee te werk tot jou voordeel, rondom die omstandighede.
[28:54] Johnny: Ek dink dit verskil maar seker van besigheid tot besigheid, persoon tot persoon en alles, en 'n mens moet daai beplanning gaan doen.
[28:59] André: Absoluut. Absoluut. Absoluut. Ek sien mense wat regtig die regte goed doen — wat die landbougrond en die boerdery verstaan, en die erflating, en dat my kinders daai naam laat voortbestaan — hulle doen dit, maar hulle doen ook die beleggingsprodukte. Daar's ook aandeleportefeuljes waarin ons bekende handelsname koop waarvan Afrikaners hou — [onduidelik] en Capitec en al hierdie — saam met die uittree-annuïteit en die belastingvrye spaarproduk. Jy weet, dis 'n doelgerigte spaarplan. Jou risiko's — in boerdery gaan dit oor die bestuur van risiko's, en dieselfde met 'n beleggingsproduk. Net soos 'n boer absoluut afhanklik is van die natuur en weet dat daar goeie en slegte tye gaan kom, is dit dieselfde op die beleggingsmarkte. Daar's baie goeie periodes, en daar's periodes wat dit nie so goed gaan nie, maar ons werk daardeur, jy weet. En ons hoop nie albei tref in een jaar nie. Hopelik, as die boerdery swak is, is die beleggings weer goed in daai jaar.
Die bakkie: afbetaal of inruil? (29:54)
[29:54] Johnny: Absoluut. André, ek wil gou vinnig vir jou vra: toe ek nou hiernatoe op pad was, toe dink ek by myself: 'n kar, 'n bakkie — 'n bakkie is 'n boer se werkesel, dis sy tool op die plaas. En ek het al baie mense gehoor: ná vier jaar moet jy hom inruil, jy moet hom oor daai tyd afbetaal. Ek glo glad nie in so iets soos 'n balloon payment en al daai tipe goed nie. Het jy raad vir boere rondom dit? Moet jy 'n bakkie afbetaal? Nog 'n rukkie langer ry? Wanneer is dit ideaal om dit in te ruil?
[30:23] André: Dis 'n baie moeilike vraag, daardie. Ek glo ook glad nie in die balloon-betalingstelsel nie. So vinnig as moontlik… Dit het baie belastingvoordele, en jou PwC en jou ouditeure sal vir jou sê: ja, doen dit, dis 'n groot aftrekking.
Johnny: [onduidelik] [lag] Cab-and-a-half.
André: Dis hy. Dis hy daai.
Johnny: Ek het dit al baie gehoor: cab-and-a-half.
[30:35] André: So doen dit — daai Hilux of daai Ranger, doen dit. So dit is belangrik: dis 'n werkesel op jou plaas. Betaal hom so vinnig as moontlik af, sonder die balloon payment. So jy weet, dit is altyd — die bakkie is altyd daar om die boer te help om verdere inkomste te verseker. So absoluut, dis 'n moeiliker vraag; dit val nie spesifiek in ons beleggingsarena nie. Maar as jy die kapitale bedrag het en jy verkort jou termyn, is jy na drie of vier jaar in die regte plek.
[31:08] Johnny: Dis maar 'n moeilike besluit — [onduidelik] — ek ry nou baie daarmee rond. Maar dis 'n moeilike besluit om te sê: 'n kar is afbetaal. Maar 'n afbetaalde kar is eintlik die beste kar wat jy het, as hy nog relatief betroubaar is.
[31:28] André: Ja, absoluut. Ek sien dit nou self by familielede: die Toyotas — die Land Cruiser is daar, en 'n Fortuner, jy weet, en 'n Prado. So elke voertuig vir 'n ander tipe geleentheid, jy weet: die een is die werkesel, en die ander is maar goeie, betroubare produkte wat waarde kan toevoeg.
Laaste raad vir boere (31:46)
[31:46] Johnny: André, as jy so 'n laaste boodskap vir die boere daar buite, vir die produsente daar buite, wil gee — en ek dink dis gegewe die tye waarin ons is: dis onseker. 'n Mens voel amper soos baie sentrale banke: jy wil net goud onder jou kussing gaan wegsteek. Wat nie noodwendig altyd die beste beleggingsmetode is nie. Wat sal jy huidiglik doen? Watse raad sal jy vir die ouens gee?
[32:10] André: Die raad wat ek sou gee, is: wees gediversifiseerd. Bestuur jou risiko, soos jy reeds in jou besigheid doen as boer — of dit 'n wynboer, 'n saaiboer of 'n vrugteboer is — regoor die land is daar 'n ander geografiese klimaat en streek. So bestuur jou risiko's. Maak seker dat die investering in jou boerdery — jy's 'n kenner, 'n absolute spesialis daarin — doen dit. Maar lees, kyk na video's op sosiale media, op Instagram ensovoorts, en rus jouself toe met meer en meer kennis. Veral van kenners, as jy nie van 'n spesifieke produk weet nie. So: wat is bate-allokasie? Wat sê Buffett en die mense oor hoe om welvaart te skep oor tyd? Daai tipe kundiges of kenners in daai spesifieke vakgebied — maak seker dat jy hulle begin volg, want dan sal die stroming mos na jou toe terugkom. Dis baie belangrik. 'n Baie gevaarlike ding is die nuutste hot tip by die braaivleis. Dis nou kripto, of dis goud, of dis dit. Dit kan heeltemal teen jou werk. Maar baie van hulle is in 'n sekere periode 'n baie goeie beleggingsproduk. Maar om welvaart te skep oor tyd, soos om 'n goeie plaas op te bou, neem dekades.
[33:28] So jy moet sorg dat jou geld, jou rande, versprei is oor 'n verskeidenheid beleggingsprodukte en op jou plaas. Jy moet geduldig wees. Maar die dissipline om dit te doen: laat die R1 000 of die R5 000 afgaan in die uittree-annuïteit. Sit jou R46 000 neer nadat jy jou lening afbetaal het. Om al daai basiese goed reg te doen, aanhoudend te doen — dis die raad. Dis eintlik baie eenvoudig. Beleggings kan so ingewikkeld wees, en dis wat ons probeer doen by 10X Investments: ons probeer die oorgekompliseerdheid, die grafieke, die ondeursigtige kostes weghaal en sê: 'n gediversifiseerde portefeulje in alle bateklasse, deurlopend oor tyd, met kapitale bedrae, deurlopend. Jy's 41, jy's 21, jy's 65 — hou net aan om dit te doen. Die dividende sal vanself kom, oor tyd.
[34:22] Johnny: Ek het so 'n baie interessante oudioboek ook geluister. Daarin sê hulle: as jy net geduldig was en jou geld eintlik op die aandelebeurs gehou het, oor tyd, deur al die ops en afs en alles, was jy baie beter af na die tyd as om die hoogtepunte te probeer vang en dan by die laagtepunte uit te klim en te probeer speel. En dit laat my so dink aan die graanmarkte ook, met graanpryse — om te probeer om die hoogtepunt van die mark te tref, en dan 'n laagtepunt. En eintlik is 'n beter strategie baie keer net om vooraf vir jouself 'n strategie te gaan uitwerk en geduldig te wees en te sê: hierso is wat ek graag wil bereik, en as ek daarby uitkom, dan doen jy dit, sonder om op 'n korttermynbasis…
[35:04] André: Absoluut. Almal wil altyd onmiddellik, vinnig geld maak. Daar's nie so 'n proses nie. Koop en hou is die beste beleggingsstrategie. Jy hou van 'n spesifieke aandeel — jy hoor dit by 'n aandelemakelaar of finansiëledienste-verskaffer. Koop byvoorbeeld drie of vier — ek wil nie die name noem nie — bankaandele, retail- en kleinhandelmaatskappye, landbouprodukte, landboumaatskappye, en dan koop en hou jy, en voeg net deurlopend by. So koop en hou, en moenie jou emosies — uit 'n gedragsfinansies-oogpunt is dit die ding. Ek het al baie mense gesien wat teen hulleself werk. Hulle wil dan skuif, dan hoor hulle van… Dan's dit goud.
[35:46] Johnny: Landbou is emosioneel [lag], en dit gaan altyd so wees.
[35:52] André: Maar beleggings kan 'n baie eenvoudige strategie wees as jy net dit in plek hou en sê: ek sit my geld weg in hierdie, en ek sit my geld weg in dit. Versprei my risiko net soos ek dit op my plaas doen, en laat die finansiële markte en die professionele beleggingsbestuurders namens my daarna omsien.
[36:12] Johnny: André, maar wat ek baie van hou van wat jy sê, is deursigtigheid. Julle sê presies vir die boer waar die kostes is, alles. En ek dink van AMT se kant af is dit ook my hoofdoel. En wat die gesprek vir my so lekker maak: julle is glad nie daarop uit om iemand in te doen, om geld hier aan die kant skelm te maak of iets nie. 'n Mens doen dit deursigtig, en van my kant af ook. Ek probeer alles deursigtig maak en al die markte vir almal oopmaak — alles vir almal gee — sodat hulle daar buite beter besluite kan neem. Maar ek dink van 'n boer se kant af, wat nou begin plant — die plantseisoen, die somergrane is nou aan die gang — as hulle daai kennis soek, as hulle daai eksterne kennis soek, om julle te kontak, om te sê: kom ons sit om 'n tafel en ons maak hierdie besluite saam, en ons gaan sê: hoor hier, hierso is jou reëls en hierso is die pad vorentoe.
[36:56] André: Absoluut. Ek dink dit is vir ons baie belangrik. Ek is 'n gesertifiseerde finansiële beplanner. Ek is gesalarieer. So dis nie daai kommissie-aspek nie: ons sit in 'n vertrek met 'n kliënt, ek het my aansoekvorm in die tas, en ek moet jou opteken om my lewenstyl te handhaaf. Glad nie daai uitgangspunt nie. My kollegas wat saam met my by 10X werk, is ook al sewe, tien jaar daar. So dit is baie lekker om daai verandering te sien in iemand met wie jy gepraat het, en te onthou wat hulle posisie vyf jaar gelede was en wat hulle gedoen het. En hulle is vyf jaar van aftrede af, en hulle is in soveel 'n beter posisie as wat hulle was. So vir ons — ons word baie genooi om artikels te skryf, om aanbiedings te gaan doen. Ek was twee weke terug by die Money Summit in Sandton. Ons was die enigste beleggingsmaatskappy in die aftreemark wat daar aanbiedings gedoen het. So ek dink dit gaan oor die deurgee van inligting, om mense — die boer, die prokureur, die dokter, die verpleegster — toe te rus met inligting om self huiswerk te doen, om vrae te vra, om self ingeligte besluite te neem oor hulle eie toekoms. Te veel mense dink: ek is in my 20's of 30's of 40's, die aftreedatum is soveel dekades van nou af, ek gaan dit nie eers geniet nie. En voor jy weer sien, is jy 55 of 60. En dis waar die probleme kom. Jy weet, jou gesondheid gaan agteruit, want jy bekommer jou dood daaroor. Mense moet soveel langer werk.
Hoeveel het jy nodig om af te tree? (38:27)
[38:27] André: En ja, ons sien hartseer stories: mense dink een miljoen rand is byvoorbeeld genoeg om hier af te tree. Of twee, of twee en 'n half. So ek het 'n paar artikels daaroor geskryf.
[38:45] Daar's baie aanwysings of denkrigtings. Een daarvan is: wat ook al jou laaste salaris was in jou laaste jaar van werk — soos as jy 'n miljoen rand verdien in jou laaste jaar voordat jy aftree — maal 15. Dis R15 miljoen, as 'n enkelbedrag. Nog een wat ons ook gebruik, is: werk uit wat jou maandelikse inkomste is wat jy benodig. Kom ons sê jy benodig R20 000: maal 300, dan sal jy by 'n bedrag van R6 miljoen uitkom. En die ander een is: as 'n kliënt sê, ek wil soveel inkomste per jaar hê, hoeveel is die kapitale bedrag wat ek moet neersit of moet hê as ek eendag aftree? So vir elke R5 000 inkomste wat jy benodig as jy aftree, as jy met pensioen gaan, moet jy ten minste een miljoen rand kapitaal hê. So jy kan daai som vinnig maak, net om seker te maak. Mense leef baie langer, dit is die ding. Ek dink na Covid het mense geleer van die mortaliteit van die lewe, waaroor dit gaan, die balans met werk ensovoorts. En mense is baie meer doelgerig in terme van spaar. Veral die jonger generasie, 20's, 30's — hulle doen huiswerk. Hulle gaan deur soekenjins en bekom inligting —
Johnny: Ja.
[40:04] André: — praat met beleggingsmaatskappye soos ons, om seker te maak dat hulle nie dieselfde foute maak as hulle ouers nie. En dit is die enigste manier. Kennis is mag. Dit is net so.
Afsluiting (40:14)
[40:14] Johnny: Nee, verseker. Jy het vandag my oë oopgemaak, en dis baie lekker om met jou te gesels. En ek dink ons luisteraars en die produsente daar buite het verseker 'n bietjie iets om oor na te dink, en om bietjie op julle website te gaan rondspeel, om seker te maak — ons kan die landbou-industrie vorentoe vat. Want dis eintlik ook my doel: om te sê ons moet regenerasie vorentoe vat, ons moet kos maak vir die mense daar buite. So ons kan nie toelaat dat hierdie plase tot niet gaan as ons dit oor generasies oorgee nie. So dis iets wat ons volhoubaar vorentoe moet vat, en hierdie is 'n belangrike punt en aspek daarvan.
[40:52] André: Ja. Kliënte kan byvoorbeeld na ons webtuiste gaan, www.10x.co.za, en kyk na die verskillende beleggingsprodukte en die portefeuljes en fondse, en dan ook gaan kyk na wat ons onder "Resources" en "Tools" het. Daar's soveel artikels en blogs wat ons bemarkingspan deur die jare geskryf en daar geplaas het, vir kliënte om gratis te gaan lees. Die rekenaars, of die calculators — ek sê daar's 10-plus van hulle op die webtuiste beskikbaar. As jy 'n kostevergelyking wil hê: daar's 'n cost comparison-versoek wat 'n kliënt net vir ons kan stuur. So kliënte gaan daarheen, hulle klik, hulle sê: ek is John Smith, ek het min of meer só 'n beleggingsbedrag in hierdie produk, en stuur dit vir ons. En dan kom dit outomaties deur ons bemarkingstrategie na die beleggingskonsultante wat in Kaapstad en in Johannesburg werk, wat die persoon dan sal kontak en met hulle sal gesels.
[41:35] Johnny: Ek weet ons boere hou daarvan om iemand gou-gou te bel, die foon op te tel. Ek neem aan die nommers is op die website?
[41:42] André: Die nommers is op die webtuiste, en dis een van die lekker dinge. Ons het veral in die ouditeursfirmas en die lugdiensbedryf 'n baie sterk gevolg. En dis baie lekker as jy nou met 'n Suid-Afrikaanse Lugdiens-kaptein praat — jy onthou hy het 10 jaar terug op 63 afgetree, want dis wanneer hulle verplig word om dit te doen — en jy praat deurlopend met hom, en dan sê hy vir jou: "Jis, onthou jy nog hoeveel ek wou hê daai dag toe ek afgetree het? Daai bedrag — nou is dit dít." Ja, meneer, want jy doen die regte goed. Jou onttrekkings is nie te hoog nie, jou koste is nie hoog nie, die bate-allokasie is relevant tot jou ouderdom. En dis baie lekker om daai gesprek te hê. Ons het kliënte wat deurlopend met ons praat — na-verkopediens. Die boer wil met iemand praat. Ek dink dis een van ons sterk punte.
Johnny: Ja. Dis belangrik dat jy beskikbaar is.
[42:30] André: Ja. En as jy nie onmiddellik beskikbaar is op daai spesifieke oomblik nie — die persoon los 'n boodskap, stuur 'n e-pos — volg ons op. Dis baie belangrik.
[42:40] Johnny: Nee, ek dink dis waar die frustrasie met sulke goed uitkom. Jy besluit nou jy gaan dit doen, en dan het hulle die eerste kommissie geteken of gekry, en dan val alles plat. Dan's daar nie weer 'n na-verkopediens nie.
[42:46] André: Ek kan jou lank besig hou met daai spesifieke goed [lag]. Jy weet, 'n finansiële adviseur verdien 'n adviesfooi wat hulle verplig om 'n kliënt ten minste een keer in die jaar te gaan sien.
Johnny: Ja.
[42:59] André: Die goeies doen dit. Dit gebeur nie altyd nie.
[43:06] Johnny: Ja, nee, ek kan dink daar's 'n bietjie… Maar ja, ek wil vir jou baie dankie sê, André. Dit is baie insiggewend gewees. Dankie vir die werk wat julle doen, en ek hoop en vertrou ons boere gaan van hierdie dienste gebruik maak, want ek dink dis baie, baie belangrik, en ek hoop nie hulle onderskat hoe belangrik dit is nie.
André: Baie dankie, Johnny.
Wil jy jou eie situasie met iemand bespreek? Ons konsultante help jou graag om deur jou syfers en beleggingsopsies te werk. Geen fooi, geen druk nie. Bespreek 'n oproep hier.
Related articles
How can we 10X Your Future?
Begin your journey to a secure future with 10X Investments. Explore our range of retirement products designed to help you grow your wealth and achieve financial success.


